1 KONINGS 22:19-24

1 KONINGS 22:19-24 AFR83

En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ So het die Here 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.” Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”