1 KONINGS 17:1-4
1 KONINGS 17:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die profeet Elia van Tisbe het nie self grond gehad nie, hy het in Gilead by ander mense gewoon. Hy het vir Agab gesê: “Daar sal hierdie jaar nie reën of dou wees nie. Dit sal net reën of dou as ek so sê. Dit is so seker soos die Here lewe, die God van Israel vir wie ek werk.” Daarna het die Here vir Elia gesê: “Jy moet hier weggaan. Gaan oos, oor die Jordaan-rivier, en gaan kruip weg in die Krit-vallei. Jy kan water drink uit die stroom in die vallei, en Ek het vir die kraaie gesê hulle moet vir jou kos bring.”
1 KONINGS 17:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord! Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is; en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou.
1 KONINGS 17:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.” Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”
1 KONINGS 17:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elia, 'n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: “So waar as die HERE, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.” Die woord van die HERE kom toe daarna tot hom: “Gaan weg hiervandaan; draai oos en gaan kruip weg by die spruit Krit, wat oos van die Jordaan is. Uit die spruit kan jy drink, en vir die kraaie sal Ek opdrag gee om jou daar van kos te voorsien.”
1 KONINGS 17:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Elía, die Tisbiet, wat uit die inwoners van Gílead was, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef voor wie ek staan, in hierdie jare sal daar geen dou of reën wees nie, behalwe volgens my woord. En die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Gaan weg hiervandaan en draai jou na die ooste en verberg jou by die spruit Kreit wat voor die Jordaan is. En jy moet uit die spruit drink; en Ek het die kraaie beveel om jou daar te voed.
1 KONINGS 17:1-4 Die Boodskap (DB)
Toe het Elia, ’n profeet uit Tisbe in Gilead, vir koning Agab gesê: “So seker as wat die Here, die God van Israel wat ek dien, leef, so seker sal daar geen dou of reën in die volgende jaar of wat val sonder dat ek so sê nie.” Die Here het vir Elia gesê: “Gaan weg van hierdie plek af en loop ooswaarts totdat jy by die Kritspruit, oos van die Jordaan, kom en kruip dan daar vir ’n ruk weg. Jy kan uit die spruit water drink, terwyl die kraaie elke dag vir jou op my bevel kos sal bring.”
1 KONINGS 17:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elia die Tisbiet het hom tydelik in Gilead gevestig. Hy het vir Agab gesê: “So seker as wat die HERE die God van Israel leef, die God wat ek dien, in die volgende aantal jare sal daar geen dou of reën val nie behalwe wanneer ek so sê.” Toe sê die HERE vir Elia: “Gaan ooswaarts van hier en kruip weg by die Kritspruit, net anderkant die Jordaanrivier. Jy kan uit die spruit water drink en Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring.”