1 JOHANNES 3:7-10
1 JOHANNES 3:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is. Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig. Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is. Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.
1 JOHANNES 3:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, julle moenie luister na mense wat verkeerde dinge vir julle leer nie. Mense wat lewe soos God wil hê, is gehoorsaam aan God, soos Jesus gehoorsaam is aan God. Maar mense wat aanhou om sonde te doen, is kinders van die duiwel, want die duiwel doen van die begin af sonde. Die Seun van God het na die wêreld gekom sodat die duiwel nie sal kan doen wat hy wil doen nie. Mense wat God se kinders is, hou nie aan om sonde te doen nie, want God het die ware lewe in hulle harte laat begin. Hulle kan nie aanhou om sonde te doen nie, want hulle is God se kinders. Hoe weet 'n mens wie is kinders van God en wie is kinders van die duiwel? Kinders van God doen wat God wil hê en hulle is lief vir die ander gelowiges.
1 JOHANNES 3:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.
1 JOHANNES 3:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.
1 JOHANNES 3:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.
1 JOHANNES 3:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie geregtigheid doen, is regverdig soos hy regverdig is. Hy wat sonde doen, is uit die duiwel; want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel is die Seun van God geopenbaar, om die werke van die duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie; want sy nageslag bly in hom, en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie.
1 JOHANNES 3:7-10 Die Boodskap (DB)
Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg. Daarteenoor is iemand wat gedurig alles doen waarvan God nie hou nie, ’n kind van die duiwel. Die duiwel doen mos nog altyd dit waarvan God nie hou nie. Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie. Wil julle weet wie ’n kind van die duiwel en wie ’n kind van God is? Kyk maar, iemand wat nie doen wat vir God reg is nie en sy broer of suster nie liefhet nie, is beslis nie ’n kind van God nie.