1 KORINTIËRS 13:4-9,13
1 KORINTIËRS 13:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.
I KORINTHIËRS 13:13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
1 KORINTIËRS 13:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie, hy doen nie lelike dinge nie, hy is nie selfsugtig nie, hy word nie gou kwaad nie, hy onthou nie vir altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie, hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is baie bly wanneer mense die waarheid praat. Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig. Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop. Want ons weet net 'n bietjie, en ons bring net 'n bietjie van God se boodskap.
1 Korintiërs 13:13 Bybel vir almal (ABA)
Daar is net drie dinge wat regtig belangrik is, en dit is: om aan te hou glo, om aan te hou hoop, en om lief te wees vir God en vir ander mense. Maar die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense.
1 KORINTIËRS 13:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik
1 KORINTIËRS 13:13 Afrikaans 1983 (AFR83)
En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
1 KORINTIËRS 13:4-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot 'n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan. Want ons ken gedeeltelik, en ons profeteer gedeeltelik
1 Korinthiërs 13:13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde.
1 KORINTIËRS 13:4-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die naasteliefde verduur lank en is vriendelik; liefdadigheid beny nie; liefdadigheid roem homself nie, is nie opgeblase nie, Gedra hom nie onvanpas nie, soek nie haar eie nie, word nie maklik geterg nie, dink geen kwaad nie; is nie bly oor ongeregtigheid nie, maar is bly in die waarheid; Verdra alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die naasteliefde faal nooit; maar of daar profesieë is, hulle sal misluk; of daar tale is, hulle sal ophou; of daar kennis is, dit sal verdwyn. Want ons ken ten dele, en ons profeteer ten dele.
1 Korintiërs 1 Korintiërs 13:13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is liefdadigheid.
1 KORINTIËRS 13:4-9 Die Boodskap (DB)
Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie; om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan mense gee, soos om God se Woord oor te dra of in “spesiale tale” te praat, of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal ’n tyd kom wanneer die Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie meer nodig sal wees nie. Ons weet in elk geval nou nie alles nie en wat ons vir julle van God se wil vertel, is ook nie alles wat daar is om te weet nie.
1 Korintiërs 13:13 Die Boodskap (DB)
Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde. En van hulle staan die liefde boaan die lys.
1 KORINTIËRS 13:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. Maar profesieë sal tot niet gaan, die spreek in tale sal ophou, en kennis sal verouder raak. Ons ken maar net ten dele en ons profeteer maar net ten dele.