JESAJA 49:1-6

JESAJA 49:1-6 AFR83

Luister na my, eilande, gee aandag, nasies wat ver is! Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem. Hy het my mond soos 'n skerp swaard gemaak, my in die skaduwee van sy hand verberg, Hy het my 'n skerp pyl gemaak en my in sy pylkoker weggesteek. Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar, jy is Israel, deur jou maak Ek my mag bekend. Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof. Maar die Here sál aan my reg laat geskied, my God sál my beloon. En nou maak die Here 'n aankondiging, Hy wat my in die moederskoot al sy dienaar gemaak het om Jakob na Hom toe terug te bring sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie. Die Here het my 'n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen. Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou 'n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.