ROMEINE 9:6-18

ROMEINE 9:6-18 AFR83

Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,” was immers 'n belofte. En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Video vir ROMEINE 9:6-18