My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie, maar soos daar geskrywe staan: “Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.” Dit is dan ook die rede waarom ek baie keer verhinder is om na julle toe te kom. Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer 'n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers 'n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis. Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan. As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis. Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees. Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar. En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om 'n tydjie by julle te rus. God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.
Lees ROMEINE 15
Deel
Vergelyk alle weergawes: ROMEINE 15:14-33
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's