Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:
So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:
Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.
Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.
Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna:
So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het:
Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.
Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum:
So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:
Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie.
Maar Ek het 'n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.
Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.