PSALMS 9:13-20

PSALMS 9:13-20 AFR83

Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood, Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie. Wees my genadig, Here, aanskou die ellende wat my haters my aangedoen het, U wat my terugruk uit die poorte van die dood. Dan kan ek van al u roemryke dade vertel, in die poorte van Sion kan ek juig oor die uitkoms wat U gegee het. Die nasies het in die gat geval wat hulle gegrawe het, hulle voete is vasgevang in die net wat hulle gespan het. So het die Here Hom bekend gemaak, Hy het reg laat geskied, en die skuldige is deur sy eie handewerk gevang. Higgajon Sela Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie. Waarlik, die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie, nie vir ewig sal die verwagting van dié wat in nood is, vrugteloos wees nie. Gryp tog in, Here, sodat die mens hom nie verhef nie. Laat die nasies voor U teregstaan.