PSALMS 86:1-13

PSALMS 86:1-13 AFR83

'n Gebed van Dawid. Luister tog na my, Here, verhoor my gebed, want ek is hulpeloos en arm. Beskerm my, want ek is u troue dienaar, red my, want U is my God, op U vertrou ek. Wees my genadig, Here, ek roep die hele dag deur na U. Maak my bly, Here, ek hunker na U. U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor. Daar is geen god soos U nie, Here, niks kan met u werk vergelyk word nie. U het al die nasies gemaak; hulle sal voor U kom buig, Here, en aan u Naam die eer gee, want U is groot en doen magtige dade, U alleen is God. Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.