Ons het God die hele dag deur geprys en sy Naam altyddeur geloof. Sela Tog het U ons nou verstoot en ons in die skande laat kom. U trek nie meer saam met ons leërs uit nie. U laat ons vlug voor ons teëstanders; ons vyande plunder na hartelus; U lewer ons uit: ons is soos slagskape. U verstrooi ons onder die nasies; U gee u volk sommerso weg, vir niks; daar steek geen voordeel vir U in nie. U stel ons bloot aan die veragting van ons bure, aan die spot en beskimping van almal rondom ons. U maak ons tot 'n bespotting onder die nasies, 'n minagting onder die mense. Ek gaan dag vir dag gebuk onder die skande, en die smaad is op my gesig te lees, want ek hoor net die spottaal van die vyand en die godslastering van dié wat op wraak uit is. Al hierdie dinge het oor ons gekom, hoewel ons U nie vergeet het nie en aan u verbond nie ontrou was nie. Ons het nie afvallig geword nie en van u pad nie afgewyk nie. Tog het U ons verwoes; ons land het 'n puinhoop geword; U het die donker oor ons laat toesak. As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie en 'n vreemde god om hulp gevra het, sou God dit dan nie kon vasstel nie? Hy ken immers die geheime van die hart. Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref, dat ons soos slagskape behandel word. Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie? Ons is tot in die stof verneder, ons is teen die grond.
Lees PSALMS 44
Deel
Vergelyk alle weergawes: PSALMS 44:9-26
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's