PSALMS 43:1-5

PSALMS 43:1-5 AFR83

Laat tog reg aan my geskied, o God, behartig tog my saak teen 'n godlose bende, red my van vals en misdadige mense. Net U is my skuiling, my God; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand? Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God! Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!