PSALMS 37:30-40

PSALMS 37:30-40 AFR83

Wat die regverdige praat, is wysheid, wat hy sê, stem ooreen met die reg. Die openbaring van sy God is in sy hart, sy koers is nie onseker nie. Die goddelose lê die regverdige voor en soek 'n kans om hom dood te maak, maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie en laat nie toe dat hy veroordeel word as hy voor die regbank staan nie. Vertrou op die Here en bly op sy weë; Hy sal jou weer laat opstaan om die land te besit, en jy sal die ondergang van die goddeloses aanskou. Ek het al gesien dat 'n slegte, roekelose mens geil opskiet soos 'n plant, en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie; ek het hom gesoek en hy was nêrens nie. Maar let nou op die eerbare mens, kyk na die opregte: die regskape man, vir hom is daar 'n toekoms. Dié wat hulle teen die Here verset, word voor die voet uitgewis, die toekoms van die goddeloses word afgesny, maar die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood. Die Here help hulle en Hy bevry hulle, Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle, want hulle skuil by Hom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 37:30-40