PSALMS 22:1-11

PSALMS 22:1-11 AFR83

Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid. My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie. Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: “Laat dit aan die Here oor! Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.” U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 22:1-11