PSALMS 119:21-48

PSALMS 119:21-48 AFR83

U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe. Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou. Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien. Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is goed. Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou. Bewys aan my u troue liefde, Here, red my volgens u belofte. Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord. Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue. Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou. My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is. Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge met vrymoedigheid aanhaal. In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig. Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig. U voorskrifte sal my bybly.