PSALMS 105:26-41

PSALMS 105:26-41 AFR83

Die Here het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, die man wat Hy verkies het. Onder die Egiptenaars het hulle die tekens van die Here gedoen, sy wonders het hulle gedoen in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak, maar hulle het hulle teen sy opdrag bly verset. Hy het hulle waters in bloed verander en hulle visse laat vrek. Hulle land het gekrioel van die paddas, selfs tot in hulle koning se slaapkamer. Die Here het beveel en daar het insekte gekom, muggies oor hulle hele gebied. Hy het hulle reëns in hael verander en swaarweer oor hulle land gestuur. Hy het hulle wingerdstokke en vyebome vernietig en die bome in hulle gebied stukkend geslaan. Hy het beveel en daar het sprinkane gekom, ontelbaar baie sprinkane. Hulle het al wat groen was in die Egiptenaars se land verslind en al die gesaaides van hulle lande afgevreet. Al hulle oudste seuns in die land het Hy laat sterwe, al hulle eersgeborenes. Toe het Hy sy volk uitgelei, belaai met silwer en goud. In geeneen van die stamme het iemand uitgesak nie. Die Egiptenaars was bly dat hulle vertrek het, want hulle was skrikbevange oor die Israeliete. Die Here het 'n wolk uitgesprei as beskutting oor hulle en 'n vuur gegee om lig te maak in die nag. Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom en sy volk met brood uit die hemel versadig. Hy het 'n rots oopgebreek en daar het water uitgestroom wat soos 'n rivier deur die dorre gebied gevloei het.