As jy vir iemand borg gestaan het, my seun,
as jy jou verbind het vir 'n ander,
verstrik geraak het deur wat jy gesê het
en vasgevang is deur jou eie woorde,
doen dan dít, my seun,
en red jouself só as jy in 'n ander se mag beland het:
gaan soebat hom, gaan pleit by hom;
moenie gaan slaap nie, bly wakker,
red jou uit sy mag soos 'n wildsbok uit 'n strik,
soos 'n voëltjie uit die net van 'n voëlvanger.
Gaan kyk na die mier, luiaard,
kyk hoe hy werk, en leer by hom.
Hy het nie 'n leier nie,
nie 'n opsigter of 'n regeerder nie,
tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer,
versamel hy sy voedsel in die oestyd.
Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard,
wanneer gaan jy opstaan?
Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,
nog 'n bietjie handevou en bly lê,
en daar oorval die armoede jou soos 'n rower,
daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.
Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg,
wat altyd reg is om te lieg,
om te bedrieg deur met die oog te knik,
met die voet te beduie,
met die vingers tekens te gee,
wat altyd met 'n skelmstreek kom
en voortdurend op kwaad uit is.
Hy maak moeilikheid waar hy gaan.
So 'n mens se ondergang kom skielik;
hy stort ineen, en daar is nie herstel nie.
Die Here haat ses dinge,
nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed,
'n tong wat lieg,
hande wat met bloed bevlek is,
gedagtes wat met komplotte besig is,
voete wat net een koers ken, dié van die kwaad,
'n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.