Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.” Hulle het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend. Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.
Lees MARKUS 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 6:30-52
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's