MARKUS 3:13-35

MARKUS 3:13-35 AFR83

Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus huis toe gegaan. 'n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om 'n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van 'n onrein gees besete.” Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 'n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid