MARKUS 16:9-14

MARKUS 16:9-14 AFR83

Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.