MIGA 6:6-16

MIGA 6:6-16 AFR83

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tienduisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid. Die Here roep die stad; luister, leier en julle almal wat aanhou roof: Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra, of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat? Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek, een met 'n sak vol vals gewigte? Die stad se ryk mense pleeg geweld, sy inwoners lieg en hulle bedrieg. Daarom het Ek jou begin straf; Ek het jou begin verwoes oor jou sondes. Jy sal eet en nie genoeg kry nie; jy sal honger bly. Jy sal geboortepyne hê, maar nie 'n kind in die wêreld bring nie. En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring, gee Ek hom vir die swaard. Jy sal saai, maar nie oes nie, jy sal olywe pars, maar jou nie met olie insmeer nie, jy sal druiwe pars, maar nie wyn drink nie. Jy het Omri se reëlings nagekom, gedoen wat Agab gedoen het, hulle raad gevolg. Daarom sal Ek jou verwoes, Ek sal jou inwoners 'n bespotting maak. Jy sal my volk se vernedering moet dra.