MATTEUS 9:2-17

MATTEUS 9:2-17 AFR83

Daar het hulle 'n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan en huis toe gegaan; en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys. Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” Hy het toe opgestaan en Hom gevolg. Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter. “'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid