MATTEUS 9:18-38

MATTEUS 9:18-38 AFR83

Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan. 'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond. Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan, sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag. Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek. Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei. Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” “Ja, Here,” antwoord hulle Hom. Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.” Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: “Hiervan moet niemand hoor nie.” Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel. Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense 'n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van 'n bose gees was. Nadat die bose gees uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.” Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.” Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Video for MATTEUS 9:18-38

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 9:18-38