MATTEUS 26:6-16

MATTEUS 26:6-16 AFR83

Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle. “'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.” Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.