MATTEUS 21:1-10

MATTEUS 21:1-10 AFR83

Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.” Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier.” Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!” Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”