MATTEUS 18:1-9

MATTEUS 18:1-9 AFR83

In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom. “As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”

Video vir MATTEUS 18:1-9