In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.”
“Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” het Jesus geantwoord. “God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek 'n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike. Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het:
“Hierdie volk eer My met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
Dit help niks dat hulle My probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie. ”
Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.”
Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”
Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As 'n blinde 'n blinde lei, val altwee in die sloot.”
Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”
“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. “Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”
Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”
Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.
Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.