LUKAS 6:24-49

LUKAS 6:24-49 AFR83

“Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg. Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet, want julle sal honger ly. Ellende wag vir julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak.” “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie? 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees. “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.” “Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou. Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid