LUKAS 6:12-38

LUKAS 6:12-38 AFR83

In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het. Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: “Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak. “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg. Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet, want julle sal honger ly. Ellende wag vir julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak.” “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”

Video vir LUKAS 6:12-38