Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie. ” Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.” Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ” Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, “en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ” Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat. Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”
Lees LUKAS 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: LUKAS 4:1-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's