LUKAS 21:25-36

LUKAS 21:25-36 AFR83

“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom. As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 21:25-36

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid