In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.
Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”
Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”
Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”
Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.
Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”
Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
omdat my oë u verlossing gesien het
wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
'n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”