Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word. Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was.
Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer.
Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!”
Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:
“Eer aan God in die hoogste
hemel,
en vrede op aarde
vir almal in wie Hy
’n welbehae het.”
Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.”
Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het.
Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas, maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink. Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.
Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het. Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.” Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.”
Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het, was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys:
“Here, nou kan u dienskneg
in vrede sterf
soos U my beloof het,
want ek het die verlossing gesien
wat U voorberei het
voor die oë van alle volke,
’n lig om God aan die nasies
bekend te maak,
en die glorie van u volk Israel!”
Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”