LUKAS 18:18-43

LUKAS 18:18-43 AFR83

'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.” Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?” Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.” En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.” Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.” Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie. Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.” Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.” Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.” En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.