LUKAS 1:57-80

LUKAS 1:57-80 AFR83

Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly. Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys. Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Dit was duidelik dat die Here by hom was. Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. Met 'n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe. “En jy, kindjie, 'n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Video vir LUKAS 1:57-80