JOSUA 22:9-34

JOSUA 22:9-34 AFR83

Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses. Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar. Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant. Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie. Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.” Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: “Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’ “Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.” Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”