JOB 38:19-30

JOB 38:19-30 AFR83

Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek? Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy woongebied toe? Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was, of jy 'n lang lewe agter die rug het. Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word, wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe, vir die dag as Ek wil oorlog voer? Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het en die oostewind oor die aarde begin waai? Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie en 'n droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit? Het die reën 'n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring? Wie bring die ys te voorskyn? Wie bring die ryp in die wêreld? Die water word so hard soos klip, selfs die oppervlakte van die diepsee verys.