JOHANNES 6:60-69

JOHANNES 6:60-69 AFR83

Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.” Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”