JESAJA 58:6-13

JESAJA 58:6-13 AFR83

Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom. Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie. Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as 'n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon. As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat 'n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie