Die volke gaan 'n kalkbrandery word,
hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse.
Julle daar ver, hoor wat Ek gedoen het,
julle hier naby, erken my mag.
Die sondaars staan verskrik in Sion,
die godloses is angsbevange:
wie van ons kan dit by 'n verterende vuur uithou,
wie van ons kan dit uithou
by 'n vuur wat brand sonder ophou?
Net dié mens wat reg bly doen
en opreg is in wat hy sê,
wat weier om wins te maak
deur mense uit te buit,
wat omkoopgeld weier,
nie na moordplanne luister nie
en nie geleentheid soek om misdade te pleeg nie.
So 'n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê,
sy skuilplek sal 'n rotsvesting wees.
Kos sal hy kry
en sy drinkwater sal nie opraak nie.
Jou eie oë sal 'n koning sien in al sy prag
en 'n land wat wyd lê.
Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het:
“Waar is die een wat ons goed moes opskryf,
waar is die een wat dit moes afweeg,
waar is die een wat moes opskryf
watter torings afgebreek moes word?”
Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie,
daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal
wat jy nie begryp nie.
Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier:
jou eie oë sal Jerusalem sien, 'n veilige woonplek
waar jou tent nie versit hoef te word nie,
sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie,
sy toue nooit meer breek nie.
Daar sal die Here vir ons die magtige God wees,
daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei
sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar,
die oorlogskepe daar verbykom.
Die Here is ons Regter,
die Here is ons Leidsman,
die Here is ons Koning,
Hy sal ons red.
Die toue van die vyand se skepe hang slap,
hulle hou nie die maste regop nie,
en die seile kan nie gespan word nie.
Daar word buit in oorvloed verdeel,
selfs lammes vat wat hulle wil.
Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie;
die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.