Die volke
sal 'n kalkbrandery word –
afgekapte doringstruike
wat 'n vuur aan die brand
moet kry.
Luister, julle wat ver is,
na wat Ek gedoen het;
en julle wat naby is,
erken my mag.”
In Sion sidder sondaars
van angs;
bewing pak hulle beet,
hulle wat vervreemd is van God:
“Wie van ons kan
by 'n verterende vuur vertoef?
Wie van ons kan
by 'n ewig brandende
vuurherd vertoef?”
Hy wat eerlik leef
en spreek wat reg is,
wat wins uit afpersing afwys,
wat sy handpalms daarvan
weerhou om omkoopgeld
te aanvaar,
wat niks van bloedvergieting
wil hoor nie,
niks wat boos is,
wil aanskou nie –
dit is hy wat op die hoogtes
sal woon.
Bergvestings in kranse
is sy toevlugsoord;
sy kos word vir hom voorsien,
sy watervoorraad
is standhoudend.
Jou eie oë sal 'n koning
in sy skoonheid sien,
sal uitkyk oor 'n wyd
uitgestrekte land.
Jou hart sal die verskrikking
oordink:
Waar is hy wat neerskryf,
waar hy wat weeg?
Waar is hy wat die getal
van die torings neerskryf?
Dié aanmatigende volk
sal jy nie weer sien nie,
die volk met spraak
wat te moeilik is om te volg,
met 'n gestamel van tong
wat onverstaanbaar is.
Kyk na Sion, die stad
van ons feestelike byeenkomste!
Jou oë sal Jerusalem sien –
'n ongestoorde tuiste,
'n tent wat nie afgeslaan sal word,
waarvan die tentpenne
nooit uitgetrek,
en die tentlyne
nooit losgeruk sal word nie;
want daar sal 'n magtige,
die HERE, by ons wees,
by 'n plek van riviere,
met breë strome aan alle kante.
'n Boot met spane
sal nie daarop vaar nie,
'n magtige skip
sal dit nie oorsteek nie.
Ja, die HERE is ons Regter,
die HERE is ons Regeerder,
die HERE is ons Koning –
Hy sal ons verlos.
Al hang jou takelwerk nou slap,
al hou dit nie die mas se voetstuk
stewig nie,
al span dit nie die banier
oop nie,
dan sal daar buit in oorvloed
verdeel word;
selfs lammes sal wat te roof is,
plunder.
Geen inwoner sal sê,
“Ek is siek” nie.
Die volk wat in Jerusalem woon,
se sondeskuld is vergewe.