JESAJA 32:1-20

JESAJA 32:1-20 AFR83

Daar sal 'n koning kom wat reg sal regeer en amptenare wat reg sal laat geskied. Hulle sal elkeen soos 'n skerm teen die wind, soos 'n skuiling teen die stortreën wees, soos strome water in 'n dor land, soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n kaal wêreld. Dan sal die oë van dié wat moet sien, nie meer toe wees nie en sal die ore van dié wat moet hoor, weer kan hoor. Die verstand van onbesonne mense sal kennis kan verwerk en die hakkelaars sal vlot kan praat. 'n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie en 'n skurk nie meer as edel beskryf word nie. 'n Dwaas laster teen God, sy gedagtes is net met sonde besig; wat hy doen, wys dat hy ver van die Here af leef, wat hy vir die Here sê, is vals. So iemand laat 'n honger mens honger bly en weier om 'n dors mens water te gee. 'n Skurk se motiewe is kwaadwillig, hy smee boosaardige planne om met leuens die ondergang van eenvoudige, arm mense te bewerk, ook al beroep hulle hulle op die reg. 'n Eerbare mens het eerbare bedoelings en hy kom op vir wat eerbaar is. Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe, luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is! Julle wat nou so selfversekerd is, sal oor iets meer as 'n jaar rede hê om te bewe: daar sal nie druiwe wees om te oes nie, geen vrugte om te pluk nie. Staan maar nou al verskrik, onbesorgdes, begin maar bewe, selfversekerdes! Trek uit julle klere, trek rouklere aan, slaan julle borste van smart oor die welige landerye, die vrugbare wingerde, oor my volk se grond wat oortrek is met dorings en dissels, oor al die huise waarin daar soveel vrolikheid was, oor die stad wat altyd so uitgelate feesgevier het. Die paleis lê verlate, die stad wat so bedrywig was, is leeg. Waar Ofel en die wagtoring was, is dit vir altyd net veld waar wildedonkies lustig vreet en troppe vee wei. So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn 'n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir 'n bos aangesien word. Maar in woestyn en in vrugteboord sal reg geskied en reg gedoen word. Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. My volk sal in rustige velde woon, in veilige wonings, op plekke waar daar rus is en geen sorge nie. Al slaan hael die bosse weg, al word die stad met die grond gelyk gemaak, met julle sal dit goed gaan: julle sal saai langs baie waters, julle sal julle beeste en julle donkies vry laat loop.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid