Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.
Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.
Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.
Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.
Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.
Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.
Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.