GENESIS 41:38-44

GENESIS 41:38-44 AFR83

Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?” Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis. “My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.” Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.” Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!” So is Josef oor die hele Egipte aangestel. Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.”