GENESIS 37:26-36

GENESIS 37:26-36 AFR83

Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.” Juda se broers het na hom geluister, en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat. Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?” Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop. Toe stuur hulle Josef se klere met 'n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.” Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. 'n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!” Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur. Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.” So het Josef se pa bly treur oor hom. Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

Video vir GENESIS 37:26-36