ESEGIËL 39:21-29

ESEGIËL 39:21-29 AFR83

“Ek openbaar my mag aan die nasies: al die nasies sal die oordeel sien wat Ek bring, die mag waarmee Ek teen hulle optree. Van daardie dag af en verder sal Israel besef dat Ek die Here hulle God is. “Die ander nasies sal besef dat die Israeliete in ballingskap weggevoer is oor hulle sonde, hulle ontrou teenoor My, en dat Ek hulle verwerp het en hulle oorgegee het in die mag van hulle vyande om almal deur die swaard afgemaai te word. Ek het dit aan Israel gedoen, Ek het hulle verwerp oor hulle onreinheid en hulle opstandigheid.” So sê die Here my God: “Ek gaan nou die lot van Jakob verander, Ek gaan My ontferm oor die hele Israel, Ek gaan die eer van my heilige Naam handhaaf. Wanneer hulle weer veilig in hulle land woon en vir niemand bang hoef te wees nie, wanneer Ek hulle terugbring onder die nasies uit en hulle bymekaarmaak uit die lande van hulle vyande, sal hulle die vernedering vergeet wat hulle moes ondergaan oor hulle ontrou aan My. Ek sal My voor die oë van al die nasies deur Israel laat erken as die heilige God. Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is. Nadat Ek hulle in ballingskap laat wegvoer het na ander nasies toe, sal Ek hulle weer in hulle land bymekaarbring; niemand sal in ballingskap agterbly nie. Ek sal hulle nooit weer verwerp nie; Ek het my Gees uitgestort op Israel,” sê die Here my God.

Gratis leesplanne en oordenkings oor ESEGIËL 39:21-29

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid