“Hoor, hemele, ek praat,
luister na my woorde, aarde!
My onderrig kom na julle toe soos reënwater,
my woorde verkwik julle soos dou,
soos sagte reëns op die grassies,
soos reënbuie op die graan.
Ek wil die Naam van die Here roem.
Prys ons God om sy grootheid!
Hy is die Rots, sy werk is volmaak,
alles wat Hy doen, is regverdig.
Hy is die getroue God, sonder onreg,
Hy is regverdig en betroubaar.
“Israel is ontrou aan die Here,
nie meer sy kinders nie,
nie geskik vir sy diens nie,
vals en korrup.
Doen julle dit die Here aan?
Jy is 'n dwase volk, sonder verstand.
Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie?
Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring.
Dink aan die dae lank verby,
onthou die jare van die voorgeslagte.
Vra jou pa dat hy jou vertel,
jou oumense dat hulle jou dit sê.
Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het,
toe Hy die mense in volke opgedeel het,
het Hy vir hulle hulle grense bepaal,
soveel as wat daar Israeliete is.
Hulle is die Here se volk, sy deel,
Jakob is die Here se vaste eiendom.
Hy het sy volk in die woestyn gevind,
in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.
Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel
en versorg soos die appel van sy oog.
Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop,
oor hulle fladder en hulle vang
op sy vlerke wat hy oopsprei,
soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra,
so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei;
daar was nie 'n ander god by Hom nie.
Die Here het sy volk die land in besit laat neem,
en hom laat eet van die opbrengs van die lande,
hom heuning uit klipskeure laat geniet,
olie uit harde klip,
botter uit die beestrop, melk van die kleinvee,
vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan,
die beste koring;
die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe.
Jesurun het alles in oorvloed gehad;
hy het in opstand gekom.
Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword,
jy het jou ooreet.
Hy het God wat hom gemaak het, verwerp,
Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.
Israel het vreemde gode bo die Here verkies,
Hom getart met hulle afskuwelike afgode,
offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie,
aan onbekende gode,
nuwe gode wat van die bure af kom,
gode wat onbekend was aan julle voorvaders.
Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie,
die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet.
“Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry.
Omdat sy seuns en dogters Hom getart het,
het Hy gesê: Ek sal nie meer vir hulle sorg nie,
Ek wil kyk wat hulle uiteinde is,
want hulle is 'n onbestendige volk,
mense sonder trou.
Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies,
My getart met wat niks is nie.
Ek sal wat nie 'n volk is nie, bo hulle verkies,
met 'n nasie sonder verstand sal Ek hulle tart.
My toorn het 'n vuur aangesteek;
dit brand tot in die doderyk daaronder,
dit verteer die aarde en sy opbrengs,
dit brand deur tot diep onder die berge.
Ek sal ramp op ramp oor hulle bring,
my pyle op hulle afskiet:
hongerpyne, koorsgloed,
ongeneeslike siekte.
Ek sal roofdiere op hulle afstuur,
en giftige slange!
Op straat roei die swaard die kinders uit,
in die slaapkamers is daar angs:
jong man en jong meisie,
suigling en grysaard, almal kom om.
Ek sou wou sê Ek sal hulle verstrooi,
Ek sal maak dat geen mens meer aan hulle dink nie,
maar Ek is bevrees die vyand sal My tart,
Israel se teenstanders sal dit verkeerd beoordeel
en sê: ‘In eie krag het ons dit alles gedoen,
nie die Here nie,’
want hulle is 'n nasie sonder verstand,
hulle het geen insig nie.
“As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het,
sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees.
Hoe kan een mens duisend agtervolg
of twee tienduisende op die vlug jaag?
Gebeur dit nie omdat die Rots van Israel hulle verkoop het nie,
omdat die Here hulle uitgelewer het nie?
Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie,
ons vyande kan tog self oordeel,
want hulle stam uit Sodom se wingerd,
uit Gomorra se droë gelyktes.
Hulle druiwe is giftig,
elke tros is bitter.