Deuteronomium 32:1-32

Deuteronomium 32:1-32 AFR20

“ Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor. Mag my onderrig neerstuif soos reën, my woorde drup soos dou, soos deurdringende reën op groen gras, soos reënbuie op plante. Ja, die Naam van die HERE roep ek uit, Erken die grootheid van ons God, die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is 'n maatstaf. 'n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy. “ Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra; hulle is nie sy kinders nie, maar 'n skandvlek, 'n vals en verworde geslag. Is dit hoe julle teenoor die HERE optree, dwase en onverstandige volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Hy is die Een wat jou gemaak het, wat jou gevestig het. Onthou die tye lank gelede, dink aan die jare van vorige geslagte; vra jou vader, hy sal jou inlig; jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê: Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het, toe Hy mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van volke vasgelê volgens die getal van die kinders van Israel; want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfenis. Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die HERE hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie. Die HERE het hom laat ry oor die hoogtes van die aarde. Hy het die opbrengs van die veld geëet. Die HERE het hom gevoed met heuning uit 'n rotsskeur, met olie uit 'n klipharde rots, met die dikmelk van beeste, die melk van kleinvee, ook met die vet van slaglammers, ramme uit Basan, ook bokramme, en met die fynste koringmeel. En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn. “ Jesurun het vet geword en agterop geskop. Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak. Hy het die God wat hom gemaak het, versaak, die Rots wat hom verlos, met minagting behandel. “Hulle het die HERE met vreemde gode ontstel, met afstootlike dinge het hulle Hom getart. Hulle het vir demone, vir nie-gode, vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag – nuwes wat maar onlangs na vore gekom het, gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie. Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam; jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet. “ Die HERE het dit gesien, en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot. Hy het gesê, ‘Ek wil my gesig vir hulle verberg; Ek wil sien wat van hulle gaan word, want hulle is 'n verworde geslag, kinders wat nie vertrou kan word nie. Hulle het My ontstel met nie-gode, My uitgetart met hulle nietige afgode. Ek gaan hulle ontstel met 'n nie-volk, met 'n dwase nasie gaan Ek hulle tart. Want 'n vuur is aangesteek in my toorn, en dit brand tot in die •doderyk daar onder. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan. Ek bring meer rampe oor hulle, my pyle skiet Ek alles op hulle af: Uitgemergel deur honger, uitgeteer deur plae en die verskriklikste pessiekte, lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange. Buite maai die swaard af, en in die binnekamers die vrees – jong man sowel as jong meisie, die suigeling saam met die grysaard. “ ‘Ek het gedink, ek moet hulle uitwis, die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn, was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie. Anders maak hulle teenstanders 'n verkeerde afleiding en sê: “Ons mag het geseëvier; die HERE het niks hiervan gedoen nie.” ’ “Ja, die vyand is 'n nasie wie se planne gedaan is, by wie daar geen insig is nie. As hulle wys was, sou hulle dit begryp, hulle sou nadink oor hulle einde. Hoe kan een dan duisend agtervolg, en twee tienduisend op die vlug jaag as hulle rots hulle nie verkoop het nie, as die HERE hulle nie oorgelewer het nie? Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie – ons vyande gee dit toe – want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies, van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels. Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Deuteronomium 32:1-32