DEUTERONOMIUM 26:1-12

DEUTERONOMIUM 26:1-12 AFR83

“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon, moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n deel vat en dit in 'n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God. “Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was 'n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy 'n groot, sterk en talryke nasie geword. Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word. Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid. Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.” “Om die drie jaar is dit 'n jaar van tiendes. Dan moet jy 'n tiende van die opbrengs van jou land opsy sit. As jy dit opsy gesit het, moet jy dit gee aan die Leviet, die vreemdeling, die weeskind en die weduwee dat hulle in jou stede genoeg kan hê om te eet.