DANIËL 2:19-49

DANIËL 2:19-49 AFR83

Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in 'n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.” Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.” Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?” Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u 'n droom, 'n visioen gehad. Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u 'n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. “U het 'n visioen gehad. Daar was 'n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek. Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê. “U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op 'n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie 'n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. En dat u 'n klip uit 'n rots sien losbreek het sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.” Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar 'n graanoffer en 'n wierookoffer aan hom geoffer moet word. Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.” Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

Gratis leesplanne en oordenkings oor DANIËL 2:19-49